A new ProZ.com translation contests interface is currently in development, and a preview contest is underway. Click here to visit the new interface »

Previous ProZ.com translation contests

English » Afrikaans - 5 entries


From "Letters from a Self-Made Merchant to His Son" by George Horace Lorimer. 320 words
I remember reading once that some fellows use language to conceal thought, but it's been my experience that a good many more use it instead of thought.

A businessman's conversation should be regulated by fewer and simpler rules than any other function of the human animal. They are:

Have something to say.

Say it.

Stop talking.

Beginning before you know what you want to say and keeping on after you have said it lands a merchant in a lawsuit or the poorhouse, and the first is a short cut to the second. I maintain a legal department here, and it costs a lot of money, but it's to keep me from going to law.

It's all right when you are calling on a girl or talking with friends after dinner to run a conversation like a Sunday-school excursion, with stops to pick flowers; but in the office your sentences should be the shortest distance possible between periods. Cut out the introduction and the peroration, and stop before you get to secondly. You've got to preach short sermons to catch sinners; and deacons won't believe they need long ones themselves. Give fools the first and women the last word. The meat's always in the middle of the sandwich. Of course, a light butter on either side of it doesn't do any harm if it's intended for a man who likes butter.

Remember, too, that it's easier to look wise than to talk wisdom. Say less than the other fellow and listen more than you talk; for when a man's listening he isn't telling on himself and he's flattering the fellow who is. Give most men a good listener and most women enough note-paper and they'll tell all they know. Money talks -- but not unless its owner has a loose tongue, and then its remarks are always offensive. Poverty talks, too, but nobody wants to hear what it has to say.

The winning and finalist entries are displayed below.To view the like/dislike tags the entries received simply click on the "view all tags" link on the right hand corner of each entry.

You can leave your feedback for this pair at the bottom of the page.

Congratulations to the winners and thanks to all the participants!






Entry #1 - Points: 22 - WINNER!
Sandra Nortje
Sandra Nortje
South Africa
View all tags
Ek het op 'n keer gelees dat party manne taal gebruik as wegsteekplek vir gedagtes, maar my ervaring is dat baie meer van hulle taal gebruik as plaasvervanger vir gedagtes.

'n Sakeman se gesprekke moet beheer word deur minder en eenvoudiger reëls as enige iets anders wat dié mensaap doen. Dit is:

Hê iets te sê.

Sê dit.

Bly stil.

As mens begin nog voor jy weet wat jy wil sê en dan aanhou nadat jy dit al gesê het, beland 'n handelaar óf in 'n regsgeding óf op straat, en daar's 'n kortpad tussen die hof en haweloosheid. Hier by my word 'n regsafdeling (wat hope geld kos) in stand gehou, maar dis daar om te help om my uit die hof te hou.

As mens by 'n meisie gaan kuier, of ná ete met vriende gesels, kan jy maar jou geselskap soos 'n Sondagskoolpiekniek hanteer en elke nou en dan stop om blommetjies te pluk; maar in die kantoor moet jou sinne die kortste afstand tussen twee punte wees. Slaan die inleiding oor, skrap die slotbetoog en hou op vóór jy by tweedens kom. Met kort preke vang jy die sondaars; die kerkraad dink in elk geval nie dat húlle lang preke nodig het nie. Gee stommerike die eerste sê, en vroumense die laaste. Die vleis is altyd in die middel van die toebroodjie. En natuurlik, 'n bietjie botter weerskante kan nie skade doen as dit bedoel is vir 'n man wat van sy botter hou nie.

Onthou tog ook dat dit baie makliker is om slim te lyk as wat dit is om iets te sê wat van wysheid spreek. Sê minder as die ander man en luister meer as wat jy praat; as mens besig is om te luister, verklap jy geen geheime oor jouself nie en vlei jy die ou wat dit wél doen. Gee meeste mans 'n goeie luisteraar en meeste vroue 'n dikgenoeg skryfblok en hulle sal jou alles vertel wat hulle weet. Geld praat – maar net as die baas 'n los tong het, en dan is die sêgoed altyd aanstootlik. Armoede praat natuurlik ook, maar niemand stel belang om sy storie te hoor nie.





Entry #2 - Points: 14
Reinhold Wehrmann
Reinhold Wehrmann
South Africa
View all tags
Ek het eens gelees dat sommige mense taal gebruik om gedagtes te verskuil, maar my ondervinding is dat heelwat meer mense taal gebruik instede van gedagtes.

'n Besigheidsman se gesprek behoort deur minder en eenvoudiger reëls beheer te word as enige ander funksie van die mens. Hulle is:

Maak 'n punt.

Sê dit.

Hou op om te praat.

Om te begin praat voordat jy weet wat jy wil sê en om aan te hou praat nadat jy dit gesê het, beland 'n handelaar in 'n regsgeding of in die armhuis, en eersgenoemde is 'n kortpad na laasgenoemde. Ek onderhou 'n regsafdeling hier en dit kos my 'n klomp geld, maar dit is veronderstel om my daarvan te weerhou om in regsgedinge betrokke te raak.

Dit is in die haak om 'n gesprek te voer soos 'n Sondagskool uitstappie waar jy stop om blomme te pluk, as jy 'n meisie bel of as jy na ete met vriende gesels; maar op kantoor behoort jou sinne die kortste aftand tussen twee punte te wees. Sny die inleiding en die samevatting uit, en stop voordat jy by tweedens kom. Jy moet kort preke hou om sondaars uit te vang; en ouderlinge glo in elk geval nie dat hulle self lang preke nodig het nie. Gee die eerste woord vir dwase en die laaste woord vir vroumense. Die vleis is altyd in die middel van die toebroodjie. Natuurlik doen 'n bietjie botter aan elke kant geen skade nie as dit bedoel is vir 'n man wat van botter hou.

Onthou ook dat dit makliker is om slim te lyk as om wysheid kwyt te raak. Sê minder as die ander ou en luister meer as wat jy praat; want as jy luister, dan sê jy niks van jouself nie en jy komplimenteer die ou wat dit doen. Gee vir die meeste mans 'n goeie luisteraar en vir die meeste vrouens genoeg skryfpapier, en hulle sal vir jou alles vertel wat hulle weet. Geld praat -- nogtans het sy eienaar 'n los tong en sy opmerkings is altyd kwetsend. Armoede praat ook, maar niemand wil hoor wat dit te sê het nie.



Entry #3 - Points: 10
Anita du Plessis
Anita du Plessis
South Africa
View all tags
Ek onthou ek het eendag gelees dat sommige ouens taal gebruik om denke te verdoesel, maar volgens my ondervinding gebruik baie meer dit in plaas van denke.

‘n Sakeman se gesprekke moet deur minder en eenvoudiger reëls gereguleer word as enige ander funksie van die menslike dier. Hulle is:

Jy moet iets te sê hê.

Sê dit.

Hou op praat.

Om te begin alvorens jy weet wat jy wil sê en deur aan te hou nadat jy dit kwytgeraak het, kan ‘n handelaar òf in die hof òf in die armhuis laat beland, en die eerste is ‘n kortpad na die tweede. Ek hou ‘n regsdepartement hier in stand , en dit kos ‘n klomp geld, maar dit hou my ten minste uit die hof uit.

Dit is goed en wel wanneer jy ‘n meisie uitneem of met vriende gesels na aandete om ‘n gesprek te voer wat soos ‘n Sondagskooluitstappie klink, met onderbrekings om blomme te pluk; maar op kantoor moet jou sinne die kortste afstand tussen twee punte wees. Sny die inleiding en die slotrede, en stop voor jy by tweedens kom. Kort preke vang sondaars; selfs diakens glo nie hulle het langes nodig nie. Gee aan stommerike die eerste en aan vroumense die laaste woord. Die vleis is altyd in die middel van die toebroodjie. Natuurlik sal ‘n smeerseltjie botter aan weerskante geen skade doen nie, veral as dit bedoel is vir ‘n man wat van botter hou.

Onthou ook, dit is makliker om wys voor te kom as om wysheid te verkondig. Sê minder as die ander ou en luister meer as om te praat; want as ‘n man nie praat nie gee hy homself nie weg nie en vlei hy die spreker. Wees vir die meeste mans ‘n goeie luisteraar en gee vir die meeste vrouens genoeg notapapier en hulle sal alles uitlap. Geld praat— maar slegs as die eienaar ‘n los tong het, en dan is sy aanmerkings altyd beledigend. Armoede praat ook, maar niemand stel belang in wat dit te sê het nie.






Entry #4 - Points: 9
Samuel Murray
Samuel Murray
Netherlands
View all tags
'n Sekere groep mense gebruik 'n oormaat woorde om te keer dat hul aanhoorders te veel nadink, maar ek dink dat baie mense soveel woorde gebruik omdat hulle sélf nie nadink nie.

Die suksesvolle sakeman voer sy gesprekke op 'n gestruktureerde wyse. Sy spreekbeurte volg drie eenvoudige stappe:

1. Hy het iets om te sê.
2. Hy sê dit.
3. En dan hou hy op.

'n Sakemens wat al begin praat voor hy weet wat hy wil sê, en dan nog aanhou praat nadat hy dit klaar gesê het, word voor die hof gedaag en soos die regter dit behaag ook dikwels uit sy huis verjaag. Ek het nou wel ook 'n prokureur, maar hy kos my klaar 'n klomp geld, en daarom bly ek liewers weg van ander prokureurs.

Fluisterwoordjies vir die meisie by wie jy kuier of slimpraatjies laataand met jou vriende is aanvaarbaar, maar op kantoor moet jou gesprekke nie drentel soos 'n pater wat elke paar treë buk om blommetjies te bekyk nie. In besigheid is jou sinne juis die kórtste roete tussen punte. Hak af jou aanhef, knip af jou afsluiting, en draai jou briek aan voor jy "in die tweede plek" aankom. Om sondaars te bereik, moet jy juis kort preke gee, en bekeerdes slaan ook nie ag op lang relase nie. Met die juiste woord snoer jy gekskeerders én teëpraters die mond. 'n Toebroodjie ken jy aan dit wat tússen die snye sit (hoewel 'n lekseltjie botter aan weerskante nie onvanpas is vir iemand wat sy botter wil proe nie).

Onthou ook, dis makliker om intelligent te lýk as om intelligente dinge kwyt te raak. Hou jou ore oop en maak jou mond toe wanneer jy met iemand gesels. Om goed te kan luister, spreek boekdele oor jou sonder dat dit iets oor jou aan andere verklap. 'n Goeie luisteraar is soos 'n dagboek of 'n vertroueling -- vroeër of later kom hy alles te wete. Geld praat miskien hard, maar as geld se eienaar niks vir homself kan hou nie, steek dit mense dwars in die krop. Armoede praat ook hard, maar niemand wil hoor wat dit sê nie.




Entry #5 - Points: 4
anonymousView all tags
Ek onthou ek een keer gelees dat sekere mense taal gebruik om gedagtes te verbloem, maar ondervinding het my geleer dat vele meer eerder taal as die brein gebruik.

'n Sakeman se gesprek moet beheer word deur minder en makliker reëls as enige ander funksie van die menslike dier. Dit is:

Moet iets hê om te sê.

Sê dit.

Hou op praat.

Deur te begin praat voordat jy weet wat jy wil sê of om aan te hou praat nadat jy dit gesê het, kan 'n handelaar in die hof laat beland of in 'n kerkmuis verander. Ek onderhou 'n regsafdeling hier en dit kos 'n fortuin, maar dit hou my uit die hof uit.

Dit is heeltemal aanvaarbaar om 'n gesprek te laat verloop soos 'n sondagskooluitstappie met ruskanse om blomme te pluk wanneer jy vir 'n meisie gaan kuier of na ete met vriende gesels, maar in 'n kantoor moet jou sinne die kortste moontlike afstand tussen punte wees. Sluit die inleiding en die ruskanse uit, en stop eerder betyds. Jy moet kort preke gee om die oortreders te vang; en diakens sal ook voel hulle het langes nodig nie. Gee gekke die eerste en vrouens die laaste woord. Die vleis is altyd in die middel van die toebroodjie. 'n Ligte bottertjie aan albei kante is natuurlik ook nie te versmaai vir 'n man wat van botter hou nie.

Onthou ook, dis makliker om wys te lyk as om wyshede kwyt te raak. Sê minder as die ander persoon en luister meer as wat jy praat; 'n man wat luister, verklap niks oor homself nie en hy vly die een wat praat. Gee die meeste mans 'n goeie luisteraar en die meeste vroue genoeg notapapier en hulle vertel jou alles wat hulle weet. Geld praat - maar slegs as die eienaar 'n los tong het, en dan is die aanmerkings gewoonlik walglik. Armoede praat ook, maar gewoonlik wil niemand luister nie.



« return to the contest overview



Translation contests
A fun way to take a break from your normal routine and test - and hone - your skills with colleagues.